Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 9 SEPTEMBER 2018

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste. ‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

DIE AFRIKA ALLE MODUSSE KOMPETISIE EN DIE SARL BHF/UHF DIGITALE KOMPETISIE VOLGENDE NAWEEK

50 MHZ EN WRC-19

en

SARL HF KOMPETISIE UITSLAE

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

DIE AFRIKA ALLE MODUSSE KOMPETISIE EN DIE SARL BHF/UHF DIGITALE KOMPETISIE VOLGENDE NAWEEK

Die doelwit van die Afrika Alle Modusse kompetisie is om kompeti te deelname te stimuleer. Alle deelnemende stasies wêreldwyd mag enige land in die kompetisie periode werk. Afrika DXCC-entiteite word gedefinieer as dié wat geldig is vir die ARRL DXCC AF-lys wat tydens die kompetisie gepubliseer is. Die kompetisie duur vanaf 12:00 UTC op Saterdag 15 September tot 12:00 UTC op Sondag 16 September 2018 met Gelykgolf, RTD en ESB aktiwiteit op 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter. Die uitruiling is jou RS(T)-verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer wat begin by 001. Geen papier inskrywings sal aanvaar word vir kompetisie- of kontrole doeleindes nie. Inskrywings moet slegs in Cabrillo-formaat ingedien word en moet nie later as Maandag 1 Oktober 2018 ontvang word nie. Inskrywings moet gestuur word aan contest@sarl.org.za

Die tweede been van die SARL BHF/UHF Digitaal kompetisie is van 10:00 UTC op Saterdag 15 September tot om 10:00 UTC op Sondag 16 September 2018 op die lug met RTD, PSK en ander digitale modusse op 6, 4 en 2 meter. 70 en 23 sentimeter en hoër. Die kompetisie is oop vir alle gelisensieerde radio amateurs in Suid-Afrika, Namibië (V5), Botswana (A2), Zimbabwe (Z2), Mosambiek (C9), Lesotho (7P) en Swaziland (3DA). Slegs kontakte met hierdie deelnemende lande sal tel. Die uitruiling is 'n RSQ-verslag sowel as die stasie se QTH, bv. breedtegraad en lengtegraad of volle ses-syfer Maidenhead ruitblok of akkurate area, adres of plek. Logstate moet ingedien word teen 24 September 2018 per e-pos aan contest@sarl.org.za. Die logstaat moet hernoem word deur die deelnemer om sy/haar roepsein in te sluit.

Lees asseblief die volledige stel reëls voor die kompetisies begin. Hulle is te vinde in die 2018 SARL Kompetisie Handleiding sowel as die September-uitgawe van Radio ZS.

50 MHZ EN WRC-19

Die Suid-Afrikaanse Radioliga het sy standpunt ten opsigte van die WRC-19 Agenda-item 1.1 in ag geneem met die spektrum behoeftes in Streek 1 vir die amateurdiens in die band 50 tot 54 MHz by die WRC-19 Industrie Voorbereidende Vergadering gehou deur die Departement van Telekommunikasie en Pos Dienste (DTPS) op Donderdag 6 September.

Die amateurdiens is op soek na spektrum belyning by WRC-19 in al 3 ITU-streke (wêreldwyd), met 'n 4 MHz primêre toekenning van 50 tot 54 MHz. Die IARU is van mening dat die verspreiding van spektrum deur middel van regulatoriese voetnotas in RR artikel 5 gedek kan word, wat bestaande televisiediens areas in Oos-Europa sal beskerm en 'n grondslag sal vorm vir nasionale deelname met betrekking tot die land- en vaste dienste en sekondêre radiolokasie (wind profiel) gebruik.

Hans van die Groenendaal, ZS6AKV, die SARL Regulatoriese Bestuurder het die SARL-posisie aangebied wat gebaseer is op die globale posisie van die IARU. Tans het Suid-Afrika toegang van 50 tot 54 MHz. Dit is nie so vir Streek 1 nie, behalwe vir die elf Afrika-lande soos in voetnota 5.169 vermeld. Geen verandering moet aan hierdie voetnota oorweeg word nie. Dit beteken dat die Suid-Afrikaanse posisie onveranderd bly.

Die IARU stel voor dat 50,0 tot 50,5 MHz op 'n gedeelde primêre basis aan die amateurdiens toegeken word en 50,5 tot 52 MHz word op 'n gedeelde sekondêre basis toegeken. Voetnota 5.169 moet uitgebrei word deur daardie administrasies wat die hele of 'n gedeelte van die frekwensie bestek 52 tot 54 MHz kan toeken, sodat die amateurdiens nie in ander lande steur nie.

OKOSA het gevra of daar enige gerapporteerde gevalle van steurings in dienste in buurlande is. Die SARL het bevestig dat oor die dekades dat Suid-Afrika toegang gehad het tot 50 - 54 MHz geen steurings ooit gerapporteer is nie.

Die vergadering het die SARL-voorstel aanvaar wat nou by die SAOG- en ATU WRC-voorbereidende vergaderings ter tafel gelê sal word. Daar is 'n aantal ander kwessies op die WRC-agenda wat amateur radio kan beïnvloed en die Liga het aan DTPS aangedui dat die SARL sy posisie binnekort sal voorlê.

BHF DAG TE NARS OP 20 OKTOBER 2018

Voorstelle vir interessante referate is reeds ontvang en uit kommentaar wat ontvang word, blyk dit dat so 'n dag lankal nodig is. Die werkswinkel sal vanaf 09:30 - 14:30 by die SARL Nasionale Amateur Radio Sentrum in Gauteng gehou word. Daar sal 'n nominale koste van R50 vir SARL en AMSAT SA lede wees en R150 vir nie-lede.

Daar word beplan om 'n Skype skakel beskikbaar te stel aan klubs wat belangstel om die gebeurtenis op hul plaaslike herhalers uit te saai. Klubs moet teen 1 Oktober 2018 by die organiseerders registreer. Waar beskikbaar, sal PowerPoint-aanbiedings op die web beskikbaar wees voor die aanvang van die werkswinkel.

Dit is 'n vroeë kennisgewing en 'n uitnodiging vir referate en aanbiedings. Belangstellende skrywers word uitgenooi om teen 15 September 2018 'n opsomming van hul referaat en voorlegging te stuur na vhfnews@sarl.org.za. As jy belangstel om by te woon, stuur 'n e-pos aan admin@amsatsa.org.za en jou naam sal by die poslys gevoeg word om inligting te ontvang soos dit beskikbaar is. Registrasie sal op 20 September 2018 oopmaak.

Jy luister na ʼn nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga

SEPTEMBER SE VSA ROETE 66 OP DIE LUG SPESIALE GELEENTHEID SE 19DE JAAR

Die 19de jaarlikse Roete 66 op die Lug spesiale geleentheidu wat die verhewe snelweg tussen die weskus en die Amerikaanse hartland vier, het gister 8 September begin en duur tot 16 September. Die Citrus Belt Amateurradioklub (CBARC) van San Bernardino, Kalifornië, borg die geleentheid met 21 stasies, waaronder twee swerwers, wat vanaf plekke langs of naby VSA Route 66 bedien word. Die 2 x 1 roepseine met 'n W6 voorvoegsel sal aktief wees op Gelykgolf, ESB en digitale modusse, asook sommige BHF en UHF herhalers. Luister vir W6A tot W6U gedurende die periode. Herdenkings QSL kaarte en sertifikate sal beskikbaar wees. Besoek http://w6jbt.org/ vir al die inligting

Wat van 'n Route 62-geleentheid hier in Suid-Afrika?

DIE UITSLAE VAN DIE SARL HF GELYKGOLF KOMPETISIE

Die kompetisie komitee het sewe logstate ontvang vir die SARL HF Gelykgolf kompetisie gehou op 26 Augustus.

1ste Hans Kappetijn, ZS6KR - 56 punte
2de Jan Botha, ZS4JAN - 54 punte
3de Barry Nugent, ZS2NF en John Golby, ZS1ZC - 46 punte elk

Die hoogste telling op 'n enkele band is behaal deur John Golby, ZS1ZC met 46 punte op 40 meter.

Die Klub kompetisie
1ste Pretoria ARK - 56 punte
2de Bloemfonteinse ARK - 54 punte
3de Highway ARK - 50 punte
4de Port Elizabeth ARV - 46 punte

DIE GEKOMBINEERDE UITSLAE VAN DIE SARL HF FOON, DIGITALE EN GELYKGOLF KOMPETISIES

1ste Jan Botha, ZS4JAN - 214 punte
2de Pieter Jacobs, u - 204 punte
3de Max Rossi, ZS5MAX - 174 punte
4de Hans Kappetijn, ZS6KR - 140 punte

Die Klub kompetisie
1ste Bloemfonteinse ARK - 347 punte
2de Highway ARK - 293 punte
3de Bo-Karoo ARK - 237 punte

Die volledige stel uitslae is te vinde in HF Happenings 811

FINALE UITSLAE VAN DIE SARL HF FOON EN DIGITAAL KOMPETISIES

Ingevolge Algemene Reël 9 van die 2018 SARL Kompetisie Handleiding word die uitslae van die SARL HF Foon en Digitale kompetisies soos gepubliseer in HF Happenings 808 en 810 nou as die finale uitslae beskou.

FINALE UITSLAE VAN DIE SARL JD NAELLOOP

Ingevolge Algemene Reël 9 van die 2018 SARL Kompetisie Handleiding het die kompetisie komitee een beswaar ontvang teen die uitslae wat in HF Happenings 809 gepubliseer is.

1ste Alta Gaybba, ZR3PA en Sonet de Wet, ZS3SW - 113 punte elk
3de Judy Pretorius, ZS6JDY - 104 punte
4de Jocelyn Hallendorff, ZS6JKL - 97 punte

Die uitslae soos gepubliseer in HF Happenings 811 word nou as die finale uitslae beskou.

HFhc VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Tans is daar geen sonvlekke sigbaar nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan moontlike goeie openinge op die 15, 20 en 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Nou die Dagboek vir die volgende paar weke:

15 September - die Oos-Rand Tak Algemene Jaarvergadering en skrywers om 'n oorsig van hul referaat en voorlegging vir die BHF-dag in te dien.
15 en 16 September die Afrika Alle Modusse Internasionale DX kompetisie en die SARL BHF/ UHF Digitale kompetisie
16 September - registrasie vir Oktober RAE sluit
17 September - die sluitingsdatum vir Nasionale Velddag logstate
20 September - registrasie open vir die BHF-dag
22 September - die Kaapstad ARS vergadering
24 September - die sluitingsdatum vir BHF / UHF digitale logstate en vir artikels vir die Oktober Radio ZS
29 en 30 September - die CQ Wêreld Wye RTD kompetisie
1 Oktober - die sluitingsdatum vir Afrika Alle Modus logstate en Klubs om vir die BHF-dag te registreer
4 Oktober - die SARL 80 m QSO Geselligheid

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Die Afrika Alle Modus kompetisie en die SARL BHF/UHF digitale kompetisie is volgende naweek, 15 en 16 September op die lug. Die Afrika Alle Modus kompetisie is Gelykgolf, RTD en ESB aktiwiteit op 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter - Afrika werk die wêreld! Tydens die BHF/UHF digitale kompetisie kan jy al die digitale modusse gebruik vanaf 6 meter en hoër. Lees asseblief die volledige stel reëls voor die kompetisies. Hulle is te vinde in die 2018 SARL Kompetisie Handleiding sowel as die September-uitgawe van Radio ZS.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tyd op 3 230 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, Zs4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003